In the media

Mynhoop-ontginner vaar deurgaans beter

28 August 2012

Johannesburg. – DRDGOLD is nou uiteindelik suiwer ’n ontginner van goud uit mynhope, maar oorweeg dit om uit te brei na ander soorte herwinning.

Die groep het in die boekjaar tot einde Junie sy enkele ondergrondse bate, die Blyvooruitzicht-goudmyn, aan Village Main Reef verkoop vir aandele gelyk aan byna 9% in dié groep.

Sy oorblywende mynhoopsake is ook finaal saamgesmelt in Ergo aan die Oos-Rand nadat dié bedrywighede uitgebrei en deur ’n 50 km-pypleiding aan die Crown-mynhope naby Johannesburg gekoppel is.

DRDGOLD het ook R111 miljoen se skuldbriewe uitgereik om nuwe flottasie- en fynmaal-vermoë by sy aanleg in Brakpan te finansier.

Dié laaste groot kapitaalprojek sal na verwagting voor die einde van die jaar voltooi word.

Hoewel DRDGOLD se finansiële resultate vir die jaar aan alle fronte verbeter het, het ’n tydelike verlaging van die goudprys saam met die begin van groot besteding in Brakpan in die laaste kwartaal van sy boekjaar tot einde Junie uitgeloop op negatiewe kontantvloei van R81 miljoen.

Ergo het in die jaar 6% minder goud opgelewer – altesame 135 708 fynonse – omdat ’n paar hoëgraad-mynhope, waaronder die bekende Top Star-hoop, uitgeput is.

Dit het DRDGOLD dus weer 3% onder sy produksieteiken van sowat 140 000 fynonse per jaar laat beland.

Die kontantkoste per fynons uit die mynhope was in die jaar 13% meer op gemiddeld $1 096 per fynons weens elektrisiteits- en arbeidskoste.

Die goudprys het stygende koste en die afname in produksie meer as vergoed en Ergo se bedryfswins het met ’n volle 53% tot R622 miljoen opgeskiet.

Blyvoor se kontantkoste was in die jaar $1 404 per fynons en hy het in die jaar ’n bedryfswins van R193 miljoen behaal.

Sy goudproduksie het met 23% tot 95 359 fynonse geval.

Source: www.sake24.com